Hierdie is ‘n tegniese Rugby post. As jy nie Rugby so kwaai like nie gaan dit boring wees.
As jy brug speel word die hele pak uitgedeel en al vier spelers tel hulle kaarte op. Dit is jou kaarte. Dis nie soos Fish waar jy vra “Gee my al jou Kings” nie.
In brug is die Blommetjies, Harte, Grawe en Diamante net so belangrik soos hoe sterk die kaart is. In sommige gevalle is ‘n 2 van Clubs sterker as die King van Spades. Dit hang alles af van jou strategie en hoe jy jou kaarte speel.
Elke pak speelkaarte het vier Aces, 4 Kings, 4 Queens ens. Hoekom praat ons oor kaarte en rugby gelyk…? Want die kaarte is gedeel vir die World Cup rugby in New Zealand later vanjaar. Die spelers wat beseer is is beseer, en ons weet wie speel goed en wie speel sleg. Daar sal seker nog plek wees vir een of twee slegte beserings, maar die bulk van die groep is uitgesort.
Voor Helium besluit wie hy gaan kies moet hy besluit hoe hy gaan speel. Hierdie verklaring is sentraal tot die bespreking. Ons is Suid Afrika en in ons pak is BAIE Rugby Aces. Ons pak is so loaded dat ons partykeer drie of vier Ace of Spades het, maar net een mag op ‘n slag speel.
Daar is twee algemene strategiee wat PeeDeVee kan speel. Strategie een is ‘n 15-man assault waar ons expansive speel en die bal by die vleuels probeer kry en in die hoeke score. Strategie 2 is ‘n 10-man-war-of-attrition waar die voorspelers merciless is en jy van vaste fasset na vaste fasset speel. Jy probeer om strafskoppe te kry waar jou skopper dit kan oorskop en af en toe ‘n drie druk. Jy probeer in 30 sekonde fases speel en los fasette ten alle kostes beperk. Sentraal tot strategie 2 is verdediging en taktiese skopwerk.
John Smit pas nie by een van die twee startegiee in nie. Ek kan aan GEEN rationele verduideliking dink wat my sal toelaat om iemand soos Adriaan Strauss, Tiaan Liebenberg of Bismarck uit te laat nie. Gaan hy voor Bismarck speel? Indien nie moet mens wonder hoekom jy ‘n kaptein soek wat op die bank sit. Indien wel, hoe verduidelik jy vir die Suid Afrikaanse publiek dat Natal wen met Terblanche as kaptein, maar die Springbokke moet Smit he om te wen?
Vereistes vir strategie 1.
- ‘n Oopkant flank wat eerste by die afbreekpunt is. Niks lyk slegter as ‘n senter wat getackle word en dan is Pocock of McCaw daar om die bal te steel nie. Tweede is laaste. As jy nie seker is jy kan eerste in die 13 kanaal kom kan jy nie wyd speel nie. As alternatief kan mens ‘n senter poacher soos Juan de Jongh speel, maar hy is nie so effektief soos Brussouw nie. Ons het net een Ace (Brussouw), alhoewel Bismarck en Beast ook partymaal bydra. Schalk Burger, Keegan Daniel, Duane Vermeulen, Pierre Spies, Juan Smith en Willem Alberts is almal oneffektief met fetching. Ons het net een ‘jakkals’ 6 en dit is Brussouw.
- ‘n Losskakel wat die lyn kan wegkry. Hoe dieper die losskakel speel hoe moeiliker is dit vir sy senters. Danie Craven, in Grondbeginsels van Rugby, het geskryf dat mens uit diepte moet aanval. Indien mens egter te diep begin kan jou flanke nie agter die kontaklyn kom nie en verloor jy die losbal teen die losvoorspelers wat op die voorvoet is. Morne Steyn speel baie diep en probeer om die spel met sy voet te beheer, Peter Grant speel baie vlak en gebruik Schalk Burger om die kontak in die middel van die veld te kry en Pat Lambie is iewers tussen die twee.
- ‘n Skrumskakel wat kan breek. Sodra die skrumskakel kan breek skakel dit drift defence uit. 6 en 7 van die opponente moet gebind bly om die kanaal langs die skrum op te pas, wat beteken hulle kan nie die senter kanaal oppas nie.
- Senters wat kan breek. Ons het 3 Aces (Jaque Fourie, Jean de Villiers en Juan de Jongh), en dan ook Wynand Olivier wat minstens ‘n King is.
- Vleuels wat kan finish. Bjorn Basson is PUIK en JP Pietersen lyk baie goed. Gio Aplon sal saamgaan, maar sal miskien as plaasvervanger speel. Ek dink nie Habana sal hierdie jaar span maak nie. Lwazi Mvovo is baie meer elektries as Habana en ek kan nie regtig verstaan waarom Natal hom nie meer speel nie. As die vleuel die bal kry moet hy score.
- Mobiele stutte. Stutte begin al hoe meer feature as die hammers wat die deur platslaan. Mense soos Coenie Oosthuizen, Beast en Gurthro is dinamiese baldraers wat skynbaar net so effektief soos senters is om die eerste lyn van verdediging te breek.
- Ons het nie ‘n back-up vir Brussouw met hierdie gameplan nie. Francois Louw is getoets en het nie gewerk nie. As Brussouw breek (en hy breek baie) moet ons ‘n nuwe strategie uitdink.
- Jy laat jou baie oop vir counter strikes van vinnige agterspelers
- Bjorn Basson se verdediging is suspect
- Die losvoorspelers is nie hard genoeg nie.
- Daar is nie plek vir Schalk Burger nie.
- ‘n Losskakel wat ALLES oorskop. Morne Steyn het ‘n track record en ek vertrou hom ten volle met die rol. Peter Grant is ‘n goeie understudy en back-up.
- ‘n Losskakel wat die bal UITSKOP. Nie ver skop nie…UITSKOP. Die bal moet heeltyd dood gaan en die ander span moet nie momentum kry nie en die bal moet nie wyd gespeel word nie. Morne Steyn sukkel met uitskop en Schalk Burger moet hom ‘n snot klap gee elke keer as hy nie uitskop nie.
- Slotte wat lynstaanbal wen. In my strategie speel Victor Matfield en Andries Bekker altwee, met Schalk Burger, Ashley Johnson en Juan Smith / Willem Alberts wat Bakkies Botha se enforcer werk doen. Ons moet al ons bal en helfte van die opponente se bal wen.
- ‘n Fullback met die bonus plan. Die bonus plan is 3 bonus punte. Daar is Frans Steyn met sy 60 meter penalties en Riaan Viljoen wat dieselfde rol vervul. Hulle rolle sal baie maklik wees. As jy die bal binne jou halfgebied vang…Skop uit. As jy die bal in hulle halfgebied vang…Drop. Dis die gameplan vir ons 15. Jy sluit nie aan by die lyn nie, jy skop nie up-and-unders nie. Al wat jy doen is skop uit of drop. Dis al.
- ‘n Moerse pak. Speel vir Schalk Burger, Willem Alberts en Ashley Johnson op losvoorspelers en Gurthro Steenkamp, Bismarck – en Jannie du Plessis in die voorry. Vat die bal en dryf. Elke keer. Bind hulle losvoorspelers in die vastelos vas en maak hulle moeg. As ons skrum moet ons regterskouer kry en as ons fases afdwing moet ons vorentoe gaan. Die eerstelyn stormram moet groot, aggressief en intimiderend wees. Daar moet ‘n vuur in die pak wees.
- Vleuels wat skoppe jaag. Bjorn Basson en JP Pietersen moet skoppe jaag en druk op die agterste drie sit. Niks is meer destructive as ‘n vleuel wat balle bo jou fullback vat nie. Die flanke en senters kan nie tackle as hy klaar verby 15 is nie.
- ‘n Skrumhalf wat takties kan skop. Fourie du Preez doen dit baie goed en hy is ook ‘n tweede ry verdediging. Fourie du Preez en Morne Steyn moet die reels van ‘n goeie skop leer:
- Dis uit. ‘n Skop wat uit is is altyd goed as jy Victor Matfield en Andries Bekker voor en Juan Smith agter het. Die ander span gaan ten minste helfte van die tyd nie hulle bal wen nie.
- Hy hop. As die bal hop begin dit gevaarlik raak. Dit is waar spelers soos Bjorn Basson op hulle beste is. As jy die bal in hulle kele afskop gaan ons sukkel met ons losvoorspelers.
- Jou ou kan hom vang. JP Pietersen en Bjorn Basson is puik hiermee. Skop teen die kantlyn waar hulle dit kan vang en ons die speler wat vang kan isoleer as ons die bal nie kan kry nie.
- Is ons losvoorspelers vinnig genoeg om vir Quade Cooper te vang?
- Is ons vinnig genoeg om by die kontakpunt te kom as hulle die bal hardloop?
- Wat gebeur as hulle die spel vinnig maak en ons voorspelers sak uit?
- Hoe gaan ons die bal by hulle afneem?
Soveel mense soveel spanne. Ek het onlangs ‘n span gesien met Hennie Daniller het…!?
Ek self kan heeldag kyk hoe ons voorspelers rumble en Morne Steyn strafskoppe oorskop. But that’s just me…