Jong kannetjies raak sommer vinnig opgewonde as iets hulle verkeerd opvryf. In die skool waar ek was moes twee ouens net snaaks vir mekaar kyk en dan het die vuiste geswaai. Ek wonder partykeer hoekom die ouer bulle nie so opgewonde raak oor netelighede nie. Die waarheid is dat baie dinge mens moerig maak voor jy die ware lig sien.
As jy lank by Binnelandse sake in ‘n ry moet staan. Die eerste uur in die ry ruik jy net Lifebouy. Die tweede uur ruik jy net Boy. En as jy heel voor in die ry kom, kom AWA weer na vore. ‘Sorry Sa (sir…), The Wakka’s (workers…) have a meeting. As die rooi mis voor jou draai dink jy niks in die wereld kan erger raak nie. AWA. Africa Wins Again.
Of ouens wat jou bedonder, of banke, of warm bier, of SOLD OUT tekens by Springbokgames. Ek onthou hoe ons op St Georges Park gaan kyk het hoe Dale Steyn sy debuut teen die Engelse maak. Toe ons in die ry staan kom ons agter iets is baie verkeerd want dis ‘n 5-dag wedstryd maar die ry staan om die blok toe het hulle gedink daar gaan min mense wees en het net een kaartjieverkoper oopgemaak. AWA. Ek was nogal warm daai dag.
Maar NIKS berei jou voor vir die groot moerigheid nie. Dis daai dag wat jy weet dat al jou ander kwaad eintlik van min- of geender waarde was nie. Eintlik, as jy eers die groot moerigheid beleef het kry jy ‘n soort vrede oor jou. Iets soos die wit lig, wat na die rooi mis kom. Want as jy eers die groot moerigheid beleef het kom jy agter al die res van jou probleme (jou kredietkaart, jou vrou, jou vrou en jou kredietkaart saam) is alles eintlik misrabel klein. Die groot moerigheid tref jou as jou dogter vir jou kom vra of sy kan date, want sy het haar oog op iemand en hy hou BAIE van haar.
Ek kan daai kwaad vir niemand verduidelik nie. Eintlik spoil dit omtrent ‘n maand van jou lewe. Jou vrou ‘hou so baie van die seun’ dat jy sommer moerig raak vir haar ook. Ek kan nie kwaad wees vir my dogter nie. Sy is sweet, lieflik, pragtig en fantasties. Ek kan kwaad wees vir die klein donner wat net soos ek dink op daai ouderdom. Eintlik moet ek hom gryp omdat hy sulke vieslike gedagtes het.
Jy dink hoe hy jou gaan vra om haar uit te vat. Jy dink wat hy gaan se en wat jy gaan antwoord. Jy begin scenario planning in jou kop doen met moontlike aanvalspunte van sy kant af en verdedigingslyne van jou kant af. Jy neem “The Art of War” by die biblioteek uit om jou strategie te vervolmaak. Jy giggle oor jou eie briljantheid elke keer as jy hom in jou kop uitoorle. Jou vra vra waaroor jy glimlag en jy antwoord “sommer niks.”
Hy kom by die deur. Hy druk die knoppie. Jy maak oop. Voor hy nog kan vra skiet jy terug (aanval is die beste vorm van verdeging):
“Wrong Approach buddy. Jy het drie of vier goed verkeerd gedoen. Die eerste ding is om hier aan te kom voor my dogter 23 is. Die tweede ding is om deodorant aan te sit. (want sy gaan nie naby genoeg aan jou kom om dit te ruik nie). Vergeet sommer nou daai Beechies Spearmint bubblegum vir ‘n vars asem in die voorportaal.”
Ek is die Original Worst Case girlfriend-se-pa. Ek raak opgewen as ek net skryf oor seuns wat my dogter wil date. Ons het toe begin besluit om sekere vaste reels vir dating op te stel, net sodat almal weet waar hulle staan. Hier is my eerste draft:
Reel een.
- As my dogter huil, huil jy. Ek is Old School. Sy is nooit verkeerd nie en jy is nooit reg nie. Live with it. Sy sal huil van hartseer, jy sal huil van aardverskeurende pyn.
Reel twee
- Ek wil nie met jou praat oor krieket, politiek of karre nie. Ek wil net met jou praat oor hoe laat jy my dogter by die huis gaan he. Dink enkelsyfers. Ses uur, sewe uur agt uur of MISKIEN nege uur. Tien is dubbel syfers. As jy dink jy herken my by die movies met die donker bril en hoed is jy verkeerd. Kyk ander kant toe. Dink matinee show. Dink helder verligte plekke met baie mense.
Reel drie
Respekteer my wense en wag vir die ‘fisiese’ deel van julle verhouding vir ‘n jaar. Die ‘fisiese’ behels hande vashou. Enige iets meer en ek sal op jou neerdaal soos die Engel met die seels in Openbaring.
Reel vier.
Ek weet in ander huise is dit noodsaaklik om te vra om te trou. In my huis is dit noodsaaklik om my te vra om hande vas te hou, ‘n drukkie te kry, te soen en te gaan uiteet.
Reel vyf.
Nee, julle kan nie saam huiswerk doen nie. Nee, julle kan nie saam aan die projek werk nie. Nee, sy kan nie jou telefoon nommer kry nie.
Reel ses
As ek julle iewers heen moet vat sit jy voor, langs my, waar ek jou kan dophou.
Dit is ‘n rowwe eerste draft, en ons sal later nog bysit soos die konflik homself uitspeel.
As jy moontlik daaraan dink om enige truuk te trek probeer onthou:
Ek was jy 25 jaar terug. Daar is niks wat jy kan probeer wat ek en my vriende soos jy nie ons groepies klaar bespreek het nie. As jy probeer wat ek 25 jaar gelede probeer het gaan dinge baie sleg raak vir jou…